Kinderpsigiatrie

Op die gebied van kinderpsigiatrie is die afgelope tien tot vyftien jaar merkwaardige  ontwikkelinge en  veranderinge  gesien.

Die biologiese effek van misbruik, trouma en verwaarlosing in die vroeê ontwikkeling is ‘n veelbesproke onderwerp in kinderpsigiatrie. Ons praat hier van die sogenaamde hegtingstoornisse. Emosionele trouma asook fisiese en seksuele misbruik en ernstige verwaarlosing veroorsaak soveel beskadiging van die ontwikkelende breintjie dat ontwikkeling permanent geskaad word. Hoe jonger die trouma hoe meer kompleks en dieper sit die skade. Onder sodanige ernstige aanslag word ontwikkeling in die breinstam gedurende die fetale en neonatale tyd erenstig en permanent belemmer word wat weer lei tot suboptimale ontwikkeling van die basaal kerne en die limbiese gebied (die emosionele sisteem) wat weer verder skade aan die ontwikkeling van die frontale lobbe (waar ons intellktuele krag sit) veroorsaak met dus nie net primitiewie emosionele probleme nie maar ook probleme met uitvoerende funksies byvoorbeeld aandag, konsentrasie, werkende geheue, prossessering spoed en beplannning.

Dit is belangerik on te besef dat die trouma waarvan gepraat word baie ernstig is en sogenaamd  katastrofaal van graad is. Dit is nie die daaglikse negatiewe gebeure in enige mens se ontwikkelingstrajek nie. Alle ouers, onderwysers opvoeders en vriende maak foute en veroorsaak pyn. Die gebeure word nie as katastrofaal beskou nie en is nie waarna verwys word as ons praat van erenstige psigopatologie in die geval van hegtingstoornisse soos komplekse post troumatiese stressteuring, troumatiese breininkorting of ander  ernstige hegtingsproblematiek nie. Die boodskap hier is die biologiese effek op breinontwikkeling van geweldige emosionele fisiese of seksuele trouma op ‘n vroeê leeftyd en natuurlik wat dit aan betref ook op enige leeftyd.

Vordering is ook gemaak op die gebied van ontwikkelingstoornisse naamlik ADHD (Attention Deficit Hyperactivity Disorder), ADD (Attention Deficit Disorder), ASD (Autism spectrum Disorder), autisme, disleksie, dispraksie en nog meer (6-12% van alle kinders en jeugdiges). ‘n Kind wat presenteer met emosionele probleme of leerprobleme of gedragsprobleme of sosiale probleme en wat nie duidelik katastrofaal getroumatiseer is vroeg in die ontwikkeling nie, het n probleem met genoemde ontwikkelingstoornisse tot anders bewys. Die dae wat gesê kan word dat dit maar a.g.v. suboptimale ouerskap is, is verby. Suboptimale opvoeding kan nie ‘n ontwikelingstoornis soos ADHD of autisme veroorsaak nie. Ja, dit kan die manier hoe die steurnis sigself presenteer of hoe die probleem respondeer op hantering  beinvloed, maar ADHD en autisme stoornisse is ontwikkelingstoornisse met ‘n genetiese en epigenetiese  basis en is nie a.g.v. suboptimale ouerskap nie! Dus ‘n ‘good enough parent or carer’ is  goed genoeg om ‘n kind in ontwikkeling buite die kader van die ontwikkelingstoornisse te hou.

Meer en meer kommer word uitgespreek oor die effek van rook, alkohol, ander substanse en die effek van moederlike stress op die ongebore baba veral gedurende die fetale tydperk. Soos een kenner dit met redelik fors per geleelntheid gese het: “Ons weet nie wat die effek is van alkohol, nikotien of ander substanse nie, maar daar is groot kommer oor en vroee bewyse van skade deur alkohol veroorsaak. Dit is veral gedurende die 8ste tot 10 de week swangerskap  – en dit is juis op die stadium dat veel vrouens nog nie weet hulle is swanger nie! Om op week 10 -12 te roep ‘O! Genade ek is swanger en sal moet minder rook of ophou drink!’ mag al te laat wees!” Kinders alreeds geneties of epigeneties gelaai met ‘n ontwikkelingstoornis kan a.g.v. genoemde faktore in utero op die manier oor die drempel van n ontwikkelingstoornis gedra word.

Dit bring ons by epigenetika en die invloed van epigenetiese faktore op kinderproblematiek. Genetiese determinante speel n geweldige rol in hoe dinge daar uitsien en uitdraai in elkeen se lewe. ADHD byvoorbeeld is een van die mees oorerflike toestande in psigiatrie. Heel veel genetiese veranderlikes dra by tot die ontwikkeling van ‘n steurnis.

Die afgelope dekade of twee egter het dit begin blyk dat faktore buite diie genoom (genes) in die sel wel die genetiese determinante van n probleem kan beinvloed. Die epigenetiese determinante word deur die omgewing beinvloed. Die determinante kan deur die geslagselle na die volgende geslag oorgedra word. So byvoorbeeld is gevind dat hongersnood epigenetiese veranderinge veroorsaak wat oorgedra word na 3 tot 4 verdere geslagte wat die genetika van ‘n indiwidu later geslagte so kan beinvloed dat so n persoon makliker aan suikersiekte of oorgewig kan lei. Dit beteken verder dat a.g.v. wat pa aan sy epigenoom aangevang het deur bv. rook of alkohol of ander substanse, teoreties via die sperm die kanse vir ‘n ontwikkelingstoornis in die nageslag net soos in geval van die moederlike substansmisbruik negatief kan beinvloed. Dit is ontstellende informasie. Dit kan die ‘oorerflikheid’ van verskeie stoornisse  verklaar. Dit is ook miskien die rede waarom die genetiese bepalings van vele stoornisse soos diabetes en ontwikkelingstoornisse so moeilik is om na te vors.

Wat betref behandeling  is ook vordering gemaak op verskeie gebiede veral op die maniere hoe  en in welke kombinasie verskeie behandelinvorme aangewend word. Behandelingsmetodes word vandag net aanvaar as geldig as daar genoeg wetenskaplike bewyse van effektiviteit is. Die sogenaamde ‘evidence based’ metodes van behandeling is in die medesyne ononderhandelbaar.

Die belang van die integrasie van biologiese behandelingsopsies met psigolagiese metodes word vandag nie meer  bevraagteken nie. Biologiese behandeling metodes soos medikasie is in sekere psigiatriese stoornisse  van groot waarde en moet in sulke gevalle sonder aarseling aangewend word. Dit behoort hand aan hand te loop met berading, psigologiese ondersteuning en meer kragtige psigologiese en psigoterapeutiese metodes. Om die strategieë aan te wend buite die voorgeskrewe ‘evidenced based’  riglyne kan ‘n terapeut hetsy farmakologies of psigologies skuldig maak aan nalatigheid.

Wereldwyd word die belang van CBT (cognitive behaviour therapy – kognitiewe gedragsterapie) aangepas vir die kinderbehoefte beklemtoon. Ouerlike berading en voorligting aan die kind of jong mense kan ook onder sekere omstandighede as CBT klassifiseer. ‘n CBT aanslag word ook gesien met kragtige metodes soos psigomotore terapie, terapie gebaseer op drama-,  kunsgerigte en sekere vorme van spelterapie.

Gesinsterapie het meer direktief en diagnosties  geassosieer geraak. Die dae van speel en filosofeer in terapeutiese verband met komplekse gesinsdinamiek gedurende gesinsterapie staan nou op die agtergrond. Gesinne word aangepak met eksplesiete ondersteuning in die praktyk met duidelike praktiese advies en gedrags- en kognitiewe rekonstruksie verkieslik in die familiewoning. Die sogenaamde ‘video home training’ kan ‘n redelike kragtige ingreep wees wat min tyd in beslag neem.

Die rol van die skool nie net t.o.v. diagnostiese ondersteuning van die kindereenheid nie , maar ook as medewerker in die hantering en behandeling van die kind word al meer beklemtoon.(Schools: Central to Providing Comprehensive CAHM Services in the Future. G Salmon, A Kirby. Child and Adolescent Mental Health. Volume 13. Issue 3. Sept 2008) So ook is die rol van die ouer of ‘carer’ meer belangerik as in die verlede en is ouerberading in die verband vandag ‘n spesialiteit op sigself.

Medikasie   vorm ‘n al meer belangerike pilaar wat die gebou orent hou. Toestande soos Depressie met neurovegetatiewe tekens d.w.s.waar die brein tekens toon van funksieinkorting, ADHD, obsessief kompulsiewe steurnisse, stoornisse met erge gedragsprobleme en psigotiese stoornisse kan en behoort in heelwat gevalle ook met medikasie behandel word. Medikasie vir ADHD is van die veiligste medikasie wat vir kinders gebruik kan word selfs veiliger as oor-die-toonbank medikasie. Dit is ook van die mees effektiewe middels gemeet aan die parameters vir effektiviteit wat aan kinders voorgeskryf kan word. (Google→Russel Barkley).

Die toekoms sit nie in die lewensstandaard of die groot salaris of die faam of grade of die groote wat ons boedels is nie. Die toekoms sit in ons kinders en dit wat ons nou doen wat belangerik is. Ons behoort alles moontlik te doen om dit vir hulle maklik te maak en hulle probleme vroeg te herken en die beste wat ons tot ons beskikking het aan te bied om hulle te help.

‘n Kind met probleme ontgroei dit nie (volwassenes hou dit in gedagte; ook vir jouself!). Die probleem se karakter verander oor tyd natuurlik, maar om te verwag dat ‘n kind met byvoorbeeld ‘n ligte graad van autisme of  disleksie of welke probleem ook al dit sal ontgroei is ‘n mite.